Gelykbreeksyfer as doelwit (KykNET’s Winslyn)

Dinge is nooit maklik vir ‘n kleinbesigheid-eienaar nie. Maak nie saak hoe hard jy probeer nie, daar is altyd probleme om op te los en vure om te blus. Jy kan jouself egter daaraan troos, dat jy nie alleen is nie. Elke kleinbesigheid-eienaar gaan deur presies dieselfde en om ‘n besigheid te bou bly ‘n uitdaging.

Vir hierdie rede, is dit so belangrik vir die entrepreneur om altyd ‘n doelwit te hê om na te jaag. Iets te hê wat jou laat vroeg opstaan in die oggend en jou die energie gee om tot laat te werk in die aand. Ek sien so baie entrepreneurs wat geen rigting het nie, geen plan het nie, elke dag daag jy maar net by die kantoor op en slaan vure dood. Aan die einde van die maand, kyk jy maar of jy dit die maand gemaak het of nie.

Daar is ‘n beter manier om jou besigheid te bestuur en ek wil vanaand daaroor gesels. Dit word, ‘n gelykbreek-syfer genoem.

‘n Gelykbreek-syfer is die hoeveelheid verkope wat jy in ‘n maand moet maak om al jou uitgawes te dek. As jy ‘n doelwit het waarna jy elke dag, week of maand kan werk, kan ek jou waarborg, jy gaan baie meer geinspireerd wees en ek het dit al by honderde entrepreneurs beleef.

Kom ons begin by die begin: hoe werk mens dit uit? Jy het twee syfers nodig:

  1. Eerstens, moet jy bepaal wat jou bruto wins persentasie is? Nou, Bruto Wins is jou Verkope minus jou Koste van Verkope en jou Bruto Wins Persentasie is jou Bruto Wins gedeel deur jou Verkope. So kom ons se, jou verkope is R200,000, jou Koste van Verkope is R100,000, jou Bruto Wins sal dan die R200k minus die R100k wees, wat vir jou R100,000 sal gee. Jou Bruto Wins Persentasie is dus die R100k, gedeel deur die R200k verkope = die antwoord, 50%. Jou Bruto Wins Persentasie is 50%.
  2. Die tweede komponent wat nodig is vir jou gelykbreeksyfer is jou totale oorhoofse kostes. Dit is al jou uitgawes in ‘n maand: salarisse, advertensie kostes, brandstof en alle ander kostes wat jy moet betaal aan verskaffers. Lys hierdie uitgawes en kyk hoeveel jou totale kostes in ‘n maand is.

Nou dat ons weet wat ons Bruto Wins Persentasie en Oorhoofse Kostes is, kan ons ons Gelykbreeksyfer uitwerk. En die berekening is: Oorhoofse Kostes gedeel deur die Bruto Wins Persentasie. Kom ons se in hierdie geval is die oorhoofse kostes R50,000 en die Bruto Wins Persentasie, 50%. Ons gelykbreeksyfer is dan R500 000 gedeel deur 50% – wat vir ons ‘n Gelykbreek-syfer van R100,000 gee.

Dit beteken dat ons ‘n R100 000 se verkope in ‘n maand moet doen, om al ons oorhoofse kostes te dek. Enige bedrag wat ons meer doen, sal wins vir die besigheid wees.

‘n Besigheidseienaar kan nou elke dag uitgaan met die wete om ‘n sekere bedrag se verkope na te jaag. Jy kan selfs die maandelikse bedrag deel deur 20, en weet watse verkope jy elke dag moet doen. Dit gee vir jou ‘n maklike doelwit en een wat jou baie gaan motiveer en inspireer.

Die gelykbreek-syfer is so ‘n basiese beginsel, maar ek het al uit ondervinding geleer dat die klein syfer, entrepreneurs se besighede en energie vir altyd verander. As mense, hou ons nie van onsekerheid nie en in die wêreld van entrepreneurskap, is onsekerheid ‘n realiteit. Hierdie beginsel kan jou ‘n klein bietjie help om die toekoms te bepaal en dinge so klein bietjie makliker maak.

Besoek gerus ons webtuiste by thebeancounter.co.za en kom ons gesels saam oor die interessante wêreld van kleinbesighede en entrepreneurskap.

Leave a Reply