Hoe kan belastingaansporings vir jou besigheid werk (KykNET’s Winslyn)

Minister van Finansies, Pravin Gordhan het onlangs sy begroting aangekondig en die land was in rep en roer – die rykes word meer belas – die belastingkoers is verhoog na 45%. Almal moet gee en gee. Verbruikers is onder druk en dit voel asof dit net nie ophou nie. Tog is daar verskeie aansporingsmaatreëls beskikbaar om belasting te spaar – beide vir die individu en vir die besigheid, maar baie min mense weet hiervan.

Beleggings in Venture Capital Maatskappye

Een van die grootste uitdagings vir ekonomiese groei, is befondsing vir kleinbesighede om van die grond af te kom. Daarom het die regering ‘n belasting-aansporing in plek gesit deur middel van Venture Capital Maatskappye.

Venture Capital Maatskappye neem geld van beleggers en befonds kleinbesighede. Sekere van hierdie maatskappye is by SARS geregistreer onder seksie 12J van die Wet en enige iemand wat ‘n belegging maak in hierdie maatskappye, kan dan die volle bedrag van die belegging aftrek van belasbare inkomste. Dit beteken dat as jy ‘n R1miljoen in so ‘n fonds belê, kan jy tot 45% of R450 000 se belasting spaar.

Daar is ongeveer 30 van hierdie Maatskappye reeds geregistreer en sluit van die meer bekende name soos Grovest en Lucid Ventures in.

Eiendomsbeleggings in Stedelike Ontwikkeling-zones

Daar is ‘n belasting-aansporing in plek gestel om te verseker dat eiendomme in sekere areas, soos bv die middestad van Kaapstad en Johannesburg, genoeg belangstelling sal kry van beleggers om hierdie areas in stand te hou en ontwikkeling te verseker.

‘n Belastingbetaler kan so ‘n eiendom van ‘n ontwikkelaar koop en tot 55% van daardie aankoopprys eis as ‘n belastingaftrekking oor ‘n sekere periode. Op ‘n R1miljoen eiendom, sal jy tot R247,500 kan spaar in belasting.

Belegging in Navorsing en Ontwikkeling

Die laaste belasting-aansproring is rondom die belegging in Navorsing en Ontwikkeling. Weereens is dit vir die regering belangrik dat ondernemings geld spandeer aan nuwe innoverende ontwikkelinge en daarom die besparing. Jy kan tot 150% eis van alle uitgawes wat jy spandeer om nuwe projekte en nou ook sagteware te ontwikkel. Dit beteken dat as jy R1m spandeer aan hierdie nuwe projekte, kan jy tot R1,5miljoen eis teenoor jou belasbare inkomste. ‘n besparing van ongeveer R140k vir ‘n maatskappy.

Soos alle belasting wette is daar altyd uitsonderings, maar gesels met jou rekenmeester of belasting-adviseur oor hoe jy gebruik kan maak van hierdie aansporings. Die besparings is beduidend en verseker die moeite werd.

Besoek gerus ons webtuiste by thebeancounter.co.za en kom ons gesels saam oor belasting, maar ook oor die interessante wereld van klein besighede en entrepreneurskap.

 

Leave a Reply